ANC Landbou-begroting skeep blanke boere af

Die ANC se minister van finansies, Pravin Gordhan het in sy begrotingsrede R7 miljard bewillig om bykans 35,000 bestaansboere en 54,500 kleinboere te help.
Die geld is voorwaardelik aan die provinsies toegewys as deel van die regering se landboubeleid-aksieprogram (wat ‘n onderafdeling van die nasionale ontwikkelingsplan vorm) om ondersteuningsdienste te verbeter.
Ten spyte van hierdie groep se onvermoë om voedsel te produseer, meen die ANC dat die vermorsing van nog geld, blykbaar sal help om opbrengs te vergroot en onderprestasie teen te werk.
Gordhan het ook gesê dat ‘n miljoen hektaar beskikbaar gemaak sal word, wat ten doel het om ‘n miljoen werksgeleenthede teen 2030 te skep, sodat die land se afhanklikheid van invoere verminder kan word.
Die landbou-ondersteuningsprogram gaan blykbaar by uitstek aangewend word om die begunstigdes van grond-hervorming te help.
Daar word nie gespesifiseer hoeveel van hierdie begrotingsbewilliging van R1,6 miljard per jaar, aangewend gaan word om bestaande kommersiële blanke boere te help nie, maar die verwagting is dat dit nie die ANC sal baat om hierdie boere by te staan, as dit teen sy eie beleid van grond-hervorming indruis nie.
Die begroting sluit ook infrastruktuur opgradering in, waarvan R250 miljoen aan heinings (om bek-en-klouseer te bekamp) en R200 miljoen aan boorgate in landelike gebiede, toe gewys is. Infrastruktuur by navorsingsfasiliteite sal ook verbeter word en daarvoor is ‘n gesamentlike totaal van R547 miljoen bewillig.
In die begroting is ook voorsiening gemaak vir Sanparke ten bedrae van R78 miljoen, waarvan R50 miljoen toegewys is vir die bekamping van renosterstropery en die res vir infrastruktuur-opgradering.
R209 miljoen is ook op medium termyn aan bykomende vloedhulp aan die Noord- en Oos Transvaal en die westelike deel van die Kaapprovinsie bewillig.