Ambassadeur dalk teruggeroep

George Twala, Suid-Afrika se ambassadeur in Rwanda gaan waarakynlik teruggeroep word, weens pres. Paul Kagame van dié land se “cowboy”-neigings om politieke vyande deur sluipmoorde uit te wis.

In diplomatieke kringe word die presiese datum vir die stap bespreek. Tom Wheeler, ’n navorsingsgenoot by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede, het gesê Suid-Afrika se dreigement om sy ambassadeur aan Rwanda te onttrek is die ergste vorm van misnoeë wat die land kan bewys oor die beweerde wyse hoe Rwanda met politieke vyande op Suid-Afrikaanse bodem te werk gaan.

Indien die ambassadeur onttrek word, beteken dit ’n finale breuk in diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande. Suid-Afrika sal dan niks meer met Rwanda te doen hê nie, sê Wheeler.

Die diplomatieke oorlog tussen Rwanda en Suid-Afrika het verlede week verder vlamgevat toe Suid-Afrika drie Rwandese diplomate gevra het om die land onmiddellik te verlaat.

Op sy beurt het Rwanda verlede Donderdag teruggekap deur ses Suid-Afrikaanse diplomate uit die land te gooi.

Foto – George Twala