Aangrypende verlede – helder toekoms

Die jaar 1914 het inderdaad aangrypende gebeurtenisse gelewer wat ’n onuitwisbare merk op die nageslag gelaat het.

Die Eerste Wêreldoorlog het begin, wat ook sou aanleiding gee tot die 1914 Rebellie toe die Suid-Afrikaanse regering besluit het om die Britse opdrag te gehoorsaam om Duits-Suidwes binne te val.

Dit was toe dat genl. Maritz die veldtog van ’n rebellie begin het. ’n Veldtog wat in die geskiedenis bekend sou staan as een van die kragtigste bewyse van hoe hierdie volk sy vryheid as onafhanklike en soewereine volk wou vestig in die land wat met sweet en bloed en trane gekoop is.

Tydens die gebeure het die skeiding gekom tussen patriot en wêreldling.

Stoere manne soos Maritz, De Wet en De La Rey sou hulle name verewig in die anale van die geskiedenis as die manne wat vryheid, soewereine onafhanklikheid, los van Brittanje voorop gestel het, terwyl genl. Botha en Smuts verkies het om Brittanje se huurlinge te word.

Dit is ook in daardie jaar, 1914, dat Jopie Fourie as baas-verkenner tydens die Tweede Vryheidsoorlog, hom by die leiers van die 1914-rebellie geskaar het.

Weer was dit Smuts, die Boeregeneraal van weleer, wat sy ware kleur gewys het met sy optrede wat aanleiding gegee het tot die teregstelling van Jopie Fourie op 20 Desember 1914.

Daardie selfde jaar het die volk kennis gemaak met die pragtige volksdanse wat in die Vrystaatse distrik van Boshof begin het.

Dit is ook die jaar waartydens die welbekende Kinderfonds begin is om die verarmde kinders van die volk finansieel by te staan.

Nou is dit een eeu later.

Nog ’n eeu van onreg het oor die volk gespoel, omdat hy nie teen Duitsland wou veg nie, omdat hy nie onder Britse Imperialisme wou buig nie, omdat hy nie wêreldburgers wou wees nie, omdat hy maar net soos die Protestant van Bloedrivier wou bly… ’n volk wat glo in die Almag van die Drie-eenheid, ’n volk wat as vrye volk sy land en sy mense wou regeer volgens die Bybelse riglyn.

Net soos in daardie dae, is daar steeds ’n deel van die volk wat rebelleer teen dit wat tans hoog opgegee word as ’n sogenaamde “demokrasie”, met die verskil dat die rebellie van vandag nie met wapens of onwettigheid te make het nie – dit is ’n rebellie waarin verset na vore kom deur volkseie strukture op te rig om daarmee ’n positiewe bydrae te lewer tot die vryheidstryd wat gevoer word.

Maar die terreuraanvalle op volksgenote bly steeds ’n groot bron van kommer. Dit is nie net ’n aanduiding dat ’n volksmoord plaasvind nie, dit is ook ’n aanduiding dat dit toegepas word deur barbare.

Dit is ’n stryd wat gerig is op die toekoms van ’n verontregte volk, en dit  is ’n helder toekoms wat wag vir ’n vrye volk!

Redakteur