Wondermiddel vir kopluise is gif

‘n Middel wat as ‘n wonderkuur vir kopluise aan ouers verkoop word, Beatle juice, bevat ‘n plaagbestryder wat in landbou gebruik word en is uiters giftig.

Hierdie waarskuwing kom van dr. Gerhard Verdoorn, ‘n gifspesialis. Ook die polisie het gewaarsku dat dit gevaarlik is.

Volgens dr. Verdoorn behoort die ouers wat dit vir kinders ingee en die vervaardigers daarvan van poging tot moord aangekla te word.

Beatle juice is ’n middel wat in ’n spuit voorkom. Ouers spuit dit in hul kinders se monde en dit raak glo van kopluise ontslae. Dié middel het ’n bitter smaak.

Die spuit met 0,1ml Beatle juice word aan kinders onder ses toegedien en dié met 0,2ml aan kinders bo ses en volwassenes. Een van Beatle juice se bestanddele is Regent 200SC, wat Friponil bevat.

Verdoorn het gesê Friponil word as ’n plaagbestryder in landbou gebruik. Friponil is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) as ’n skadelike produk geklassifiseer.

Maar onderwysers en haarkappers in Pretoria moedig ouers aan om Beatle juice te gebruik.

Ao. Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, het gesê die 40-jarige verspreider en vervaardiger van Beatle juice is Vrydagaand vasgetrek.

Ao. Jacques Oosthuizen, lt. Santie van Rooyen en sers. Jaco Breetzke in samewerking met lede van die Departement van Gesondheid het hulle Vrydagaand voorgedoen as kliënte en 20 Beatle juice-spuite bestel.

Toe dié polisielede hul bestelling gaan afhaal, het hulle op die man se huis toegeslaan en dit deursoek. Hulle het ’n houer vol met ’n wit, melkerige middel gekry. Die man het erken die ongemerkte houer bevat Beatle juice.

Die houer en ander spuite is deur die polisie verwyder. Aanvanklik het die verdagte gesê die bestanddele van Beatle juice is ’n geheim, het Olivier gesê, maar volgens haar later erken Regent 200SC is die hoofbestanddeel.

Regent 200SC word spesifiek gebruik om insekte en peste van onder meer aspersies, piesangs, wyn en aartappels weg te hou en dood te maak. Op die houer is daar ‘n waarskuwing dat dit buite bereik van kinders gehou moet word.

Foto – dr. Gerhard Verdoorn