Vrou kry ses jaar tronkstraf.

Onder druk van haar werklose man, het ‘n vrou van Bloemfontein R1,7 miljoen in drie jaar van werkgewer gesteel.

Percerett (Pikkie) Pennells (45), ’n kredietbestuurder van SA Truck Bodies in Hamilton, Bloemfontein, het skuld op die 73 aanklagte van diefstal beken en is deur ’n streeklanddros in ’n pleit-en-vonnis-ooreenkoms tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Vier jaar is voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort, wat beteken dat sy tot ‘n effektiewe ses jaar gevangenisstraf gevonnis is.

In haar bekentenis erken sy dat sy die geld van Januarie 2010 tot Januarie 2013 gesteel het deur die rekenaarstelsel van die maatskappy te misbruik en die stelsel te manipuleer. Van die betalings aan krediteure het nie op die stelsel gewys nie. Dié bedrae het sy dan in haar rekening inbetaal.

Die finansiële bestuurder het later agtergekom dat daar vir van die goed wat aan SA Truck Bodies gelewer is, meer as een keer betaal is. Verdere ondersoek is toe ingestel.

Met die verkoop van haar motor en beslaglegging op pensioen het die werkgewer R431,412 terug gevorder.