Volkspele – een eeu later

Toe wyle dr. S H Pellissier terug gekom het uit Swede, was hy só gemotiveer en beïndruk met die Sweedse volksdansers se vertonings, dat dit nie anders kon nie, Suid-Afrika moes sy eie kultuur met volksdanse versterk en uitbou.

Dit het daartoe gelei dat vier Sweedse volksliedjies na Afrikaans vertaal is en toe is ’n klein groepie leerlinge gevind wat gewillig was om die eerste tree te stap op wat later die trots van die volk sou word.

Kort na dr. Pellissier se aankoms in 1914, het hy die eerste poging begin op die plaas Vuisfonteinpan, in die distrik van Boshof in die Vrystaat

Dit was dieselfde jaar waarin die Rebellie begin is deur ’n aantal generaals, met genl. Maritz op die voorpunt.

Die klompie leerlinge het die vier liedjies geoefen tot dit vir hulle volksbesit geword het, en toe is die eerste passies geoefen wat die voorloper was van ’n paar honderd volkspele-laers wat regoor Suid-Afrika tot stand gekom het.

Dit sou egter jare neem voor die Volkspele in die harte van die volk neerslag gevind het, maar het sy eerste hoogtepunt in 1938 beleef tydens die opening van die Voortrekkermonument.

Kort daarna, in 1940 is volkspele laers se funksionering gekoördineer met die stigting van die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele.

Daarna het Volkspele laers gedy tot ’n enorme groot en indrukwekkende organisasie.

Tydens die 300 jarige herdenking van die volksplanting, het duisende volkspelers deelgeneem aan een van die grootste skouspele wat die volk ooit beleef het.

Vanjaar, ’n eeu later as die eerste dag se begin, word die stigting en ontstaan van volkspele herdenk – weer op dieselfde plaas Vuisfontein, en word die Van Riebeeck-laer die aantrekkingskrag om eerskomende Vrydag besoek te bring aan die plaas met sy geskiedkundige verlede.

Terwyl menige jeuglede van die volk Majuba sal bestyg, sal feesvieringe op Vuisfontein voortgaan, waarvan tradisionele volkspele en boeresport die hoofdis bly.

Die Saterdagaand sal ’n groot volkspele-saamtrek die hoogtepunt wees wat gehou gaan word in die saal van die Hoërskool van Boshof.

Dr. Pellissier se woorde word in hierdie dae weer skerp onder die soeklig geplaas omdat dit meer aandag verdien as wat tans die geval mag wees. Hy het gesê:

“Die Afrikaner het lank vir sy taal gestry, nou het ons ’n kragtige kultuur, ons Bybel, ons volksliedjies en ons volkspele.”

Die Vryburger se navrae het daartoe gelei dat ’n welbekende op die volksakker gesê het dit het tyd geword dat instansies soos die Afrikaner Kultuurbond, die Verkenners en die Republikeinse Vrouebeweging hande vat en skakeling bewerkstellig met die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele sodat die pragtige kultuurerfenis weer kan gedy.

Daar is niks wat ’n volk so vinnig saamsnoer as volksang en volkspele nie, het hy gesê.