Vakbondlede raak meer militant

Die vakbond, Amcu, het die platinum mynbase se eis verwerp dat hulle na die onderhandelingstafel moet terugkeer. Hulle beskuldig die mynbase daarvan dat hulle voorgee dat hulle die hoë morele grond beset maar eintlik “saboteurs” is.

Die platinum mynbase het ‘n ultimatum aan die stakers gestel dat hulle tot die onderhandelings moet terugkeer met ‘n redeliker looneis. Die vakbond eis ‘n basiese loonverhoging van 100% tot R12 500 per maand. Die mynbase dreig dat as die vakbond nie aan sy eis gehoor gaan gee nie hulle uit die onderhandelings gaan onttrek wat tans gefasiliteer word deur die Kommissie vir Versoening, Mediasie en Arbitrasie (CCMA).

Die platinum myne se produksieverlies beloop al ongeveer R4.4-miljard, benewens die skade aangerig aan bates.

Die aanranding op persone wat wil gaan werk duur steeds voort. ‘n Werknemer is Donderdag voorgekeer en aangerand waarna sy kouse in petrol gedoop en om sy lyf aan die brand gesteek is. Die polisie ondersoek ‘n klag van poging tot moord, maar die drie skuldiges is nog nie aangekeer nie.

Foto: Amcu leier Joseph Mathunjwa