Thailand in krisis

Nadat meer as 20 burgerlikes omgekom, en sowat 750 beseer is in opstande, blyk dit dat die land in ’n krisis gedompel is met ’n nuwe fase van gewelddadigheid wat skynbaar voor die deur is.

Dit kan lei tot ’n burgeroorlog nadat die afgelope aantal maande se geweld in ’n kookpot van ontevredenheid in regeringskringe en by burgerlike betogers ontstaan het.

Talle betogings het plaasgevind uit ontevredenheid met die land se premier, Yingluck Shinawatra.

Die hoof van Departement van Spesiale Ondersoeke, Tarit Pengdith, het gesê die huidige plofbare atmosfeer kan oorgaan tot ’n volskaalse burgeroorlog indien dit nie spoedig reggestel kan word nie.

Die hoof van Thailand se Weermag, Genl. Prayut Chan-O-Cha, het self sy kommer uitgespreek dat ’n burgeroorlog nie vermy gaan word as beide partye, naamlik die ontevredenes en die regering, nie die reëls gaan respekteer nie.

“Die weermag kies nie kant nie, en sal alles vir die land en sy mense doen,” het hy gesê.

Foto – Yingluck Shinawatra.