Talle newe-effekte van steroïede

Ongeag al die newe-effekte wat die gebruik van steroïede op die menslike liggaam kan hê, gee ouers en afrigters vir kinders hierdie middel net sodat hulle beter in sport kan presteer.

Van die newe-effekte sluit in aggressie waar kinders selfs hulle ouers aangerand het. Boonop is daar ‘n drie tot vyf keer groter kans op ‘n hartaanval en les bes, lewerkanker ontwikkel en beengroei wat voortydig staak. 

Volgens dr. Louis Holtzhausen, spandokter van die Suid-Afrikaanse Olimpiese span in 2012 en hoof van sport-en-oefeninggeneeskunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), spuit sommige ouers hulle kinders selfs met perde steroïede in.

Dit wil volgens hom voorkom asof die meeste kinders steroïede en ander verbode middels by fiksheidsafrigters in gimnasiums kry.

Khalid Galant, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids), beaam wat Holtzhausen sê – daar is ouers wat hul kinders aanmoedig om steroïede te gebruik en dit aan hulle verskaf. Volgens Galant word steroïede ook in aanvullingswinkels te koop aangebied.

Volgens hom is dit veral seuns wat aan kragsport soos rugby, fietsry, swem en gewigoptel deelneem, wat steroïede gebruik.

Holtzhausen sê die probleem begin by gewone aanvullings, en gemeenskappe wat al hoe meer kitsoplossings soek.

Holtzhausen wys daarop dat daar’n verband bestaan tussen die gebruik van steroïede op ’n jong ouderdom en die latere gebruik van sogenaamde harde dwelms soos kokaïen en heroïen.

Hy sê leerlinge gebruik dit, want hulle glo die spanlede van ’n ander skool doen dit. Daar is ook die geweldige druk om te presteer.

Volgens hom verstaan hy nie al die druk wat daar op ‘n kind geplaas word om te presteer nie. Hy sê al die druk veroorsaak dat die kind se selfbeeld en selfs hele menswees afhang van hoe goed hy in sport presteer. Dis onregverdige druk op tieners. Hoe kan ons as gemeenskap dit toelaat, het hy gevra.

Hy sê om ‘n goeie rugbyspeler te wees moet jy kan links en regs aangee en dink.

Die probleem is ook lankal nie net meer by tieners nie. Ouers kom met kinders so jonk as 11 jaar na hom en vra watter aanvullings moet die kinders gebruik om beter in sport te doen.

Foto – Louis Holtzhausen