Swak SAPD ondersteuning veroorsaak krisis

Mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA se Veiligheidskomitee het sy misnoeë uitgespreek oor die swak diens van die SAPD in Utrecht nadat ʼn 74 jarige dame dringende hulp by die SAPD stasie gepleit het en eers dae later enige reaksie ontvang het.

ʼn Onbekende man het op hul plaas buite Utrecht aangekom om die eienaar te kom sien.  Die plaaseienaar was egter nie tuis nie en het sy vrou haarself in die huis  gaan toesluit en die SAPD wat 5 km van die plaas geleë is verwittig.   Die man het egter al om die huis gestap en ʼn venster gebreek om toegang tot die huis te verkry.  Nadat die vrou fisies en seksueel aangerand is, het die aanvaller met haar selfoon, kontant van R150 en die huis se sleutels gevlug.

Swak en geen diens gelewer deur die SAPD blyk die reël te wees eerder as die uitsondering.  Dit laat die landelike grondeienaars desperaat en keelvol, aldus Geldenhuys.  ʼn Verdagte is intussen deur die plaaslike arbeidersgemeenskap uitgeken en is gearresteer.

Die hantering van hierdie insident word gemonitor!