Stop die Gupta-suiwelprojek

Die Vrystaatse regering moet nou ’n plan maak en met die waarheid voor ’n dag kom oor die omstrede Suiwelplaas-projek in die distrik Vrede waarby, na bewering, die Gupta familie betrokke is.

Die projek, wat reeds R570miljoen beloop, en waarvan ’n groot aantal beeste, wat veronderstel was om melkkoeie te wees, gevrek het weens wanversorging, raak nou al meer ’n geval van uitermatige vermorsing van belastinggeld.

Ace Magashule en sy regering swyg soos die graf oor dié omstrede projek.

Die ganse projek is deurspek van verdagte kontrakte en transaksies, met ’n onverklaarbare geheimsinnigheid daarom heen, terwyl miljoene Rand vermors word.

Die eerste skade waarvan buitestaanders bewus geraak het, is die 30 melkkoeie wat gevrek het voor die projek nog begin het om produksie te lewer.

Die beraamde skade van die geval, beloop sowat R500,000.

Kenners en landbou kundiges vra hoe die projek begin is, wie die voordeel uit die projek sal kry, en hoe hulle dan vooraf geïdentifiseer is.

Waarnemers sê die Departement van Landbou moet ook verduidelik waarom dié departement die Gupta’s as gas behandel het en ingestaan het om hulle na Sun City te vervoer met die omstrede Gupta troue.

’n Woordvoerder van die MPO sê dat kommersiële suiwel produsente nie betrokke is by die sogenaamde suiwel-projek nie en wil dit duidelik stel dat betrokkenheid daarby net die suiwelbedryf skade kan berokken.

Kenners meen dat meganismes in werking gestel moet word om die projek te stop aangesien daar reeds te veel belastinggeld vermors is, en dit duidelik geword het dat die omvang van die projek net op verliese uitloop.