Stilswye oor Bosch-moord

Die kunstenaar Cornelius Bosch se moord van drie jaar gelde is nog steeds in ’n donker wolk gehul en die forensiese ondersoek na die oorsaak van sy dood word nog as onvoltooi bestempel.

Mnr. Bosch is gedurende Maart 2011 in ’n veld in Derdepoort buite Pretoria met ’n skietwond in sy kop gekry, en sy liggaam was verkool.

Van sy naastes is in hegtenis geneem as verdagtes, maar later vrygelaat weens omstandigheidsgetuienis.

Een van die mense, mnr. Christo Potgieter, het intussen verhuis en woon glo in Australië.

Die familie is erg bekommerd oor die aangeleentheid. Vir hulle is dit onaanvaarbaar dat drie jaar verloop het en geen vordering is gemaak met die ondersoek nie.

“Die toetse wat deur die Departement van Gesondheid veronderstel is om gedoen te word, is onafgehandel, en dit maak dat daar vertraging is in die geregtelike doodsondersoek” het ’n familielid gesê.

David Klatzow, forensiese kundige in Kaapstad, sê die reuse agterstand in ondersoeke van die afdeling sal nog vir ’n onbepaalde tyd voortduur.

“Daar is groot vertragings in dié departement, en dit werk negatief in op die uitkoms van die ondersoeke, en kan deels toegeskryf word aan die onkundige en onbevoegde personeel waarmee gewerk moet word,” het hy gesê.

Dit blyk volgens ’n familielid dat daar nog steeds sleutel getuies is wat nie ondervra word nie.