Skrywersideaal van n volksman

Hendrik van Blerk is in Johannesburg gebore en het sy skoolopleiding in Heidelberg Transvaal begin.  Nadat hy nog twaalf ander skole besoek het, was hy na standerd ses vir goed klaar met die skoolbanke.  Daarna het hy o.a. as delwer van spoeldiamante op Lichtenburg, houtryer vanaf Marico, soldaat, padma­ker, fabrieks- en mynwerker aan die Rand gewerk.

Teksblokkie: Hendrik Stephanus Hertzog van Blerk.  
Gebore: 27 November 1915.
Oorlede: 25 Desember 2010.
Hy was in Junie 1942 as Stormjaer van die Ossewa Brandwag, weens sabotasie ter dood veroordeel omdat hy die stryd teen die Britse Imperialiste gehelp stry het – ‘n vonnis wat na 28 dae in die dodesel tot lewens­lange gevangenisstraf verander is.  Dit was in die gevangenis, waar sy lewensfilosofie sy beslag gekry het, nl. My volk gaan te gronde weens ʼn gebrek aan kennis, (Hosea 4:6).  Nadat hy daar ses van sy jong­mens jare vir sy volk opgeoffer het, was hy eers vryge­laat nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het.  Hierna was hy o.a. ook ʼn skoolbuskontrak­teur, graangradeerder en joernalis. 

Vandag ken elke opregte Boer reeds die naam van een van ons geliefdste volkshelde, HS van Blerk, die skrywer wat na homself verwys het as ʼn “Boerevolksaktivis”.  Die skrywerstalent wat hy in die gevangenis ontdek en ontwikkel het, het hy ten volle ingespan om op sy manier die volk te probeer fokus op ons vryheids­ideaal in ons mooi land.  Sy eerste boek: Dit Blom Tussen Bantoms, wat verhale uit sy kinderdae op die delwerye vertel het, het reeds in 1948 verskyn, en in die 65 jaar sedertdien het daar al honderde romans, jeugverhale, kortverhale, asook geskiedkundige boeke uit sy pen verskyn.  Hy het ook onder die skuilnaam, Melt Froneman geskryf.

Oom Hendrik van Blerk het meer van menswees geleer gedurende die swaarkry van sy kinderdae, as wat vandag se gemiddelde volksgenote in ʼn leeftyd kan leer.  Hy het in die ‘Armblanke’ tydperk na die 1914 Rebellie, gedurende die 1922 Mynstakings en Depressie­jare opgegroei.  Maar ten spyte van talle terugslae, het hy sy Godgegewe talente van ʼn ryk verbeeldingskrag en unieke skryfvermoë, gebruik om met denkbeeldige karakters en situa­sies, uit te styg tot een van die beste verhaalkunstenaars wat ons volk nog opgelewer het.

Prof. PD van der Walt van Potchefstroom het in 1985, tydens die viering van Oom Hendrik se 70ste verjaardag, oor die egtheid en opregtheid waarmee hy sy boeke geskryf het, gesê: “U is tot ons groot vreugde en agting, ʼn egte en eerlike woordkunstenaar, totaal onpretensieuse storieverteller” “want, … u skep eie ervaring, waarneming en lewensinsig om tot kuns, verhaalkuns wat besonder pakkend en toeganklik is.”  Hy meld verder: “U het besef, dalk intuïtief, omdat u ʼn gebore verteller is … dat ʼn goeie storie ook betroubare en interessante inligting moet verskaf, die leser se kennis moet verryk.  En ook dat ʼn goeie roman meer as inligting gee, dat dit ʼn probleemgebied betree, bv. ekonomies of sosiaal – dat só aan die verhaal ʼn algemeen geldige ideële dimensie gegee word.”

Die Boerevolk onderskei homself reeds vir byna twee eeue van die res van Afrika se inwoners, as dié etniese groep wat as volk, sy heil, sy vryheid en sy selfbeskikking, van sy Vader alleen afsmeek.  Geen volk kan egter bly voortbestaan, as sy jeug nie voortdurend in die kultuur, norme en waardes wat eie is aan daardie volk, geskool word nie.  Vir Oom Hendrik was die Boerejeug ʼn teer saak, baie na aan sy hart, daarom het hy sy lewe daaraan gewy om sy volk in te lig oor die bose aanslag teen die enigste volk naas Israel van ouds, met wie die Almagtige God van hemel en aarde, ʼn Verbond gesluit het.  Die datum, 27 Februarie 1881, was al sedert die skrywer se betrokkenheid by die Ossewa Brandwag, vir hom as jong man net so ʼn belangrike datum in ons volksgeskiedenis, as Geloftedag.  Die miskenning daarvan, het hom gekwel en gegrief, daarom was dit sy groot ideaal, om hierdie datum weer tot sy reg te laat kom.  

Oom Hendrik was ‘n persoon wat uitgestaan het as ’n held en ’n rolmodel vir die Boere­volk, van hoe ’n Boer sy liefde vir sy volk behoort uit te leef.  Hierdie nederige, klein van postuur omie met sy lang wit baard, het die moed en deursettingsvermoë van ’n ratel gehad.  Hy het eiehandig meer vir die Boerevolk gedoen en beteken as wat baie van die “groot party-politieke leiers” saam kon beteken.

Die vyftien jaar voor sy dood het hy sy lewe en skryfwerk voltyds in diens van sy volk gewy.  Hy was die stigter en Eerste Trustee van die Majuba Boerevolktrust.  Hy het hierdie trust met die uitsluitlike doel tot stand gebring, om te sorg dat daardie deel van ons geskiede­nis en Boerevolksmonument, as erfpag vir ons nageslag bewaar sal bly.  Op Majuba self het hy alles in sy vermoë gedoen om die gedenkterrein van die veldslag, die bewys van ons Vader se bevestiging van Sy Verbond met die Boerevolk, vir ons nageslag te bewaar.  Hy het die volle opbrengs van sy geskiedkundige verhale op Majuba aangewend, daarom sal die naam H.S. van Blerk altyd die onthou word, vir sy onbaatsugtige ontwikkeling van infrastruktuur, maar veral ook vir die voorbeeld wat hy vir die Boerejeug gestel het, om in verset te kom teen die “Sataniese moordkampanje op die volksiel, wat teen ons kinders woed” en teen die vernietiging van ons erfenis, deur die Boerevolk se vyande. 

Deur sy talente as storieverteller en verhaalkunstenaar, wat oor meer as 60 jaar ontwikkel was, daarvoor in te span, kon Oom Hendrik die koue geskiedkundige feite so aanbied, dat sy verhale altyd boeiend en begeesterend op elke leser kan inwerk.  Toe hy sy heel laaste verhaal, “As die Wekroep Weerklink”, op bykans 94-jarige leeftyd geskryf het, was dit om ʼn jarelange begeerte te bevredig, om die reeks oor Danie Theron se Verkenners nog volledig af te handel.  Met hierdie verhale het Oom Hendrik gepoog om ʼn klein gedeelte van die ryk heldegalery wat ons God aan die Boerevolk geskenk het, aan ons jeug bekend te stel.  Oom Hendrik, self een van ons langslewende en geliefde volkshelde, se ideaal was dat ons jeug, die sentrale boodskap uit elkeen van sy geskiedkundige romans hul eie sal maak en lewenslank sal uitleef tot voordeel van hulle volk en hul eie nageslag. 

“Leer eers uit die heldedade van duisende Bittereinders, en die duisende Boere-kinders en -vrouens wat hul lewens vir die vryheid van hul volk en vaderland afgelê het, wat dit beteken om jouself ʼn Boer te mag noem, alvorens jy jouself hierdie eretitel sommer ligtelik toe-eien.  Leer ook uit die smaad van verraad, wat dit beteken om hierdie eretitel te minag of onwaardig te bejeën.”

Op Saterdag 27 Februarie 2010, toe die eerste druk van “As die Wekroep Weerklink” daar op Majuba vrygestel was, het Oom Hendrik besluit dat hy nog ʼn paar gedagtes met ʼn dieperliggende boodskap oor hierdie datum en die Paardekraal Verbond in die volgende druk van sy laaste verhaal wou invoeg, met die gevolg dat die hersiene uitgawe daarmee bygewerk is.  Hy het besef dat hy nie nog tyd sou oorhê om ʼn volgende verhaal te skryf nie en hy wou o.a. hierdie heruitgawe ook aan Clive Derby-Lewis en aan ons Boerekrygsge­vangenis opdra, wat toe reeds sewe jaar vir die sg. Boeremagverhoor deur ons volk se huidige vyande as gyselaars in die tronk aangehou was.

Dit was egter die wilsbesluit van ons Almagtige Vader, om hierdie opregte Boer op Kersdag 2010 te kom haal.  Op Oujaarsdag moes die Boerevolk in die OB-Helde-akker op Verwoerdburg, finaal afskeid neem van hom wat met woord en daad sy volk probeer akti­veer het, om as apartgestelde blanke volk, die land wat deur ons Vader aan die Boerevolk gegee was, weer tot Sy eer te herstel.  In Sy alwysheid het ons Vader ook twee maande later besluit om vir Tannie Nel van Blerk ook te kom haal.  Vir ons wat agter gebly het, sal Hy op Sy tyd openbaar maak, waarom Hy besluit het om haar op Sondag 27 Februarie 2011, in Oom Hendrik se huisie op Majubaberg te kom haal, presies 130 jaar nadat Hy, juis ook op ʼn Sondag, Sy Verbond met die Boerevolk op hierdie selfde berg bevestig het.