Sierdanse deur perde


 

Hierdie uittreksel van die Nuwejaarskonsert in Wenen, Oostenryk het die befaamde dirigent Herbert von Karajan voor die orkes in 1987. Die interessantheid van die uittreksel is die musiekuitvoering wat direk na die Spaanse Ryskool uitgesaai word en die gehoor dan verder getrakteer word deur ‘n vertoning van hierdie uitsonderlike perde.

Swier, grasie, soepelheid en dansprag, gepaard met militêre akkuraatheid, regimentele flambojansie en presisie, is alles woorde waarmee ’n optrede van die dansende wit Lipizzanerhingste beskryf kan word. Nietemin is die verhaal van hierdie spogperde is veel groter as die vertonings wat die publiek sien.

’n Mens hoef slegs na die Ou Renaissance Meesters se kunswerke te kyk om te besef dat al die perde wat op doek of in marmer vasgelê is, dieselfde kenmerke as dié van die Lipizzanerperde vertoon: ’n edel kop met die prominente profiel; groot, intelligente, wydgespasieerde oë en ’n sterk, bonkige liggaamsbou met die kenmerkende gespierde agterkwarte.

Spaanse perde is deur die eeue as die beste oorlogsperde beskou. Waarskynklik weens die legendariese vaardigheid, ruitervernuf en vegkuns van die Spanjaarde. Die Spaanse rystyl, A la jineta (later bekend as Haute École, of hoër afrigting of skoling) het oral in Europa begin posvat. Spesiale skole wat hierdie vorm van ruiter- en vegkuns aangebied het, het oral oor die Europese vasteland tot so ver as Italië begin. Volgens oorlewering het Julius Caesar se persoonlike wagte, Spaans-afgerigte perde gery. Willem die Veroweraar was op ’n Spaanse perd tydens die slag van Hastings. Richard die Leeuhart was ook in die saal ’n Spaanse perd gedurende die 1169 Kruistog. Keiser Karel V van Duitsland en Koning Alfonso van Aragon het beide Spaanse perde verkies, vanweë hulle eienskappe van dapperheid, spoed en krag gedurende oorlogstyd.

In 1562 het die Oostenrykse Groothertog, Maximillian, ’n aantal van hierdie populêre Spaanse perde ingevoer en ’n stoet naby Trieste begin. Trieste was toe nog ’n deel van die Pruisies-Hongaarse Ryk. So is die Lipizzaner as ras in Oostenryk gevestig met die stigting van die Keiserlike stoet by Karst, naby Lipizza. Aan die Oostenrykse hof, is Lipizzanerperde uitsluitlik gebruik om die Keiser se koetse te trek, asook vir skouspele en Haute École vertonings.

Op die kultuurafdeling is daar nog ‘n video en verdere inligting oor hierdie uitsonderlike perde.