Sanral skandes word verswyg

Dit wil lyk of Sanral se gruwelike foute stil gehou word vir die media.

Dit is die mening van ’n motoris se naasbestaande wat ’n rekening van Sanral ontvang het terwyl die rekening uitgemaak is aan iemand wat reeds twee jaar gelede oorlede is.

Wat egter lagwekkend, maar ook kommerwekkend is, is die rekening van ’n motoris van die Wes-Kaap, wat ’n rekening van Sanral ontvang het terwyl hy oor bewyse beskik dat hy op daardie dag in sy kantoor werksaam was.

Mnr. Joggie Scholtz sê hy kon onmoontlik dieselfde dag op kantoor gewees het in die Wes-Kaap en dan nog tyd gevind het om 1500 km verder in Sentraal Transvaal deur ’n e-tol hek te ry.

Hy het ’n rekening van R272-58 van Sanral gekry.

’n Ander geval is aangemeld van ’n pensioenaris wat in Kaapstad woon, wat nou al beboet is omdat die rekening nie betaal word nie, al bestuur die bejaarde dame vir jare nie meer ’n motor nie.

En wyle mnr. Charlie Tyler-Scott het twee jaar na hy begrawe is, volgens Sanral ook deur ’n tolhek gery, en sy rekening is meer as R600!

’n Woordvoerder van Outa sê hulle het al meer as1200 soortgelyke klagtes ontvang wat nou by die openbare beskermer ingedien gaan word.