SABC verkwis R285 miljoen

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het in ’n ondersoek bevind dat die SABC tussen 2007 en 2010 tot R285 miljoen onreëlmatig verkwis het.

Dié ondersoek is in 2010 begin en is reeds twee jaar gelede afgehandel waarna die verslag aan pres. Jacob Zuma gestuur is, ooreenkomstig die SOE-mandaat.

Die ondersoek het onder meer belangebotsings waarby werknemers van die SAUK betrokke was, ondersoek. Minstens 20 werknemers is aanvanklik geïdentifiseer.

Hulle was mense wat sake­belange in ondernemings gehad het en aan wie die SAUK tussen September 2007 en Maart 2010 betalings gedoen het.

Paul Modipa van die SOE het gesê die ondersoek het aan die lig gebring dat sowat R9,6miljoen vermors is en sowat R276miljoen onreëlmatig uitbetaal is.

Van die onregmatighede wat aan die lig gekom het is byvoorbeeld dat die voormalige voorsitter van die SAUK en die voormalige uitvoerende hoof onregmatig veiligheidswagte by hul private huise gehad het. Die SAUK het daarvoor betaal en die koste daarvoor alleen was onderskeidelik R140,000 en ­R181,000, het Modipa gesê.

Hy het gesê nege strafsake is by die polisie aanhangig gemaak.

Yunnus Carrim, minister van Kommunikasie wat eers einde verlede jaar in die pos aangestel is, het gesê hy het eers sowat tien dae gelede bewus geword van die SOE-ondersoek. Hy sê dat as dit kom by bestuurders wat oortree het, is die direksie daarvoor verantwoordelik. As dit kom by direksielede, is dit die minister se verantwoordelikheid.

Carrim het gesê hy het reeds die staatsadvokaat genader vir advies oor die saak.

Ook die Openbare Beskermer (OB) het ’n verslag uitgereik oor haar ondersoek na die SAUK en onder meer gesê dat Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof, onregmatig aangestel is in sy pos en herhaaldelike onregmatige salarisverhogings ontvang het.

Carrim het gesê hy het nog nie kans gehad om die volle OB-verslag te lees nie, maar het belowe dat hy sal saam met die direksie van die SAUK vergader oor die hantering van die OB-verslag.

Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, het gesê die verslag sal op die direksie se volgende vergadering bespreek word. Hy kon nie sê wanneer die direksie weer sal vergader nie.