Rooivleis uitvoere weer gemagtig

Die Internasionale Dieregesondheidsorganisasie het skriftelike toestemming gegee aan die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye dat die beperking op die uitvoer van rooivleis weens bek-en-klouseer-klousules nou opgehef is.

Dit bring mee dat die verbod wat nou reeds drie jaar gegeld het, finaal opgehef is, maar dat volstruisvleis steeds nie uitgevoer mag word nie.

Met die uitbreek van bek-en-klouseer in Noord- en Oos-Transvaal gedurende 2011, is uitvoere opgeskort en het rooivleis produsente gesukkel om kop bo water te hou aangesien dit ’n jaarlikse verlies van meer as R4 miljard teweeg gebring het.

Benewens die uitvoer van rooivleis wat baat sal vind met die opheffing van die verbod, sal die uitvoer van huide en velle ook weer volskaals kan begin.

Stoetvee se uitvoere, wol en suiwelprodukte sal ook baat by die opheffing.

Met die voëlgriep wat in 2011 ondervind is in veral die Oudtshoorn gebied, het volstruisboere die een na die ander boedel oorgegee wat die bedryf ’n aansienlike knou gegee het.

’n Toename in die volstruisbevolking word tans ondervind, en boere van die bedryf is vol moed dat daar binnekort goeie nuus sal wees oor uitvoere.