Renamo praat met landsregering

Na die eerste skrikbewind deur lede van Renamo, het dringende samesprekings begin tussen die regeringslui van Mosambiek en leiers van Renamo.

Dit blyk dat die regering toegegee het aan die eis van Renamo dat die samestelling van die land se verkiesingskommissie aandag verdien.

Die regering het tot samesprekings ingestem in ’n poging om die plofbare situasie in die land te probeer ontlont. Die samesprekings vind plaas agter geslote deure en weinig inligting is reeds bekend. Maar politieke ontleders sê die regering is waarskynlik vasbeslote om enige onluste of terroristiese aanvalle te vermy ten einde stabiliteit in die land te verseker.

Motoriste, sakelui en buitelandse toeriste moes verlede jaar beleef hoe Renamo sy skrikbewind voortsit terwyl die regeringsmagte ietwat onkant gevang was en dikwels gesteier het onder Renamo se aanslae.

Dié optrede van Renamo het ook gepaard gegaan met verskeie ontvoerings van hoë profiel sakelui, en het talle Suid-Afrikaanse gesinne en sakemanne genoop om pad te gee uit die land en hulle weer in Nelspruit en omgewing tuisgemaak vanwaar hulle poog om sake te bedryf.

Renamo terroriste het talle AK47 wapens, en sowat 3,000 patrone probeer smokkel vanaf Suid-Afrika om in Mosambiek teen regeringsmagte te gebruik, maar alhoewel hulle in hegtenis geneem is, bestaan die vermoede dat groot getalle wapens vanaf Suid-Afrika na Mosambiek gesmokkel is.

Politieke ontleders in Suid-Afrika meen die samesprekings sal al strammer verloop, veral as die tweede saak op die sakelys bespreek moet word wat handel oor die ontwapening van Renamo-magte.

Foto – Renamo rebelle