Premier, jy moet bedank

Premier Ace Magashule, bedank asseblief, is al wat opposisie lede van die Vrystaat wil hoor want enige ander geluide word verwerp.

Dit is die uitlating van ’n Cope woordvoerder oor die premier van die Vrystaat.

Die Vryheidsfront Plus het die opmerking ondersteun.

Die VF Plus sê hulle wil  hoor dat die premier met konkrete aankondigings sal kom wat betref infrastruktuur ontwikkeling, die herstel en verbetering daarvan sodat mense minstens sorgvry kan woon in die land.

Opposisie partye sê die mislukte gesondheidstelsel moet voorkeur kry, maar tesame daarmee moet die waterkrisis, die korrupsie en tender-bedrog ook behoorlik bestuur word.

“Daarom is dit nodig en die enigste manier waarop die premier dit egter sal kan doen, is om môre sy bedanking as premier aan te kondig. Dit is die enigste eerbare manier van optrede aangesien die premier die Vrystaat in die steek gelaat het,” word gesê.

Een van die nagmerrie-korrupsie gevalle is die webblad wat vir R140miljoen ontwikkel is, terwyl dit nie meer as sowat R400,000 moes gekos het nie.

Pravin Gordhan, die minister van Finansies, het vroeër aanbeveel dat die premier van die Vrystaat aan die mense van die Vrystaat verantwoording moet doen, of anders moet hy maar bedank.

Die ander gemors in die Vrystaat, wat soos ’n seer duim uitsteek, is die Gupta-verwante suiwelprojek van R570miljoen wat reeds toon dat dit ’n mislukking sal wees.

Foto – Premier Ace Magashule