Padwoedevoorval dood motorfietsryer

Douglas Pearce (39), is verlede Vrydagoggend in ’n padwoedevoorval in Randburg wes van Johannesburg van agter deur ’n mede-padgebruiker doodgeskiet.

Pearce het omstreeks 07:00 op sy oranje Kawa­saki Ninja ZX-10R deur die vroegoggendverkeer op Malibongwe-rylaan in die rigting van Rand- parkrif – waar hy saam met sy vrou, Tammy, en dogter, Nicole, woon – gevleg toe daar ’n onderonsie tussen hom en ’n prokureur (44) in ’n Chevrolet-motor uitgebreek het.

Die onderonsie het tot ‘n woordewisseling gelei en albei het op die pad links van die geel lyn aan die linkerkant van die pad afgetrek, het lt.kol. Katlego Mogale, ’n polisiewoordvoerder, gesê. Beide het glo vuurwapens gehad.

Volgens inligting het die oorledene van sy motorfiets afgeklim en na die motor geloop. Die mans het kwaai woorde gewissel en die oorledene het die man in die Chevrolet blykbaar geklap of geslaan. Die prokureur, wat Maandag in die landdroshof in Roodepoort op aanklag van moord sal verskyn, moes vir ’n besering aan sy kop in die hospitaal behandel word.

Albei mans het vuurwapens gehad.

Volgens ‘n ooggetuie was Douglas besig om na sy motorfiets terug te draai om weg te ry toe die eerste skoot op hom gevuur is. Dit het hom regs agter, laag in die rug getref en dwarsdeur sy lyf getrek. Die tweede keer wat die sneller getrek is, het die vuurwapen nie ’n geluid gemaak nie, maar die derde skoot het weer getref – dié keer in Douglas se linker-boarm. Hy het op die toneel doodgebloei.

Forensiese toetse wat op die toneel gedoen is, het bewys dat Pearce nie ‘n skoot afgevuur het nie.