Ontvoering bring Moot in rep en roer

Die Mootgebied in Pretoria was in rep en roer toe honderde inwoners die berig soos ’n woeste veldbrand versprei het dat ’n 11-jare dogter ontvoer is.

Chanté was erg getraumatiseer nadat ’n aantal booswigte haar uit die erf van hulle woonhuis in Villieria ontvoer het, maar gelukkig het die groot aantal mense wat aan die soektog deelgeneem het, haar twee uur later ongedeerd gevind.

Mnr. Christo de Beer het gesê haar ontvoerders het ’n swart sak oor haar kop gegooi en haar toe in ’n voertuig gedwing. Sy weet nie hoeveel ontvoerders daar was nie, maar sy is nie beseer nie maar erg ontstel.

Christo sê hulle het van die skool gekom, en hy het haar gevra om die erf se hek oop te maak, iets wat hy gewoonlik self doen.

Hy het met die motor ingery, en hy en sy gade het goed uit die motor gelaai en hulle het gesien hoe sy besig was om die hek toe te maak, en toe hulle weer uit die huis kom, was sy weg.

De Beer het  met die motor begin soek, en later onverrigter sake terug gekeer huis toe.

Mon Ami Trauma Troops het Chanté met berading versorg maar sy was nog daarna erg getraumatiseer.

Die polisie ondersoek die saak.