Negejarige seun is familie se held

’n Negejarige seun van Bloemfontein is sy gesin se held nadat hy blitsig hulp gekry het toe sy ma ernstig aangerand is in hul huis in Genl. De Wetuitbreiding.

Zita Smit (44) wat aan borskanker ly, is steeds in die hospitaal en moet waarskynlik ’n operasie ondergaan nadat sy helder oordag tussen 10:00 en 14:00 oorval en erg aangerand is. Haar aanvaller het haar na bewering verskeie kere met die vuis in die gesig geslaan.

Volgens haar man, Pieter (44), het sy bloeding op die brein en haar regter-oogbank is beskadig. Sy sal moontlik ’n operasie nodig hê om haar oog te red. Sy is in ’n ernstige, maar bestendige toestand in die Pelonomi-hospitaal.

Pieter-Theo (9), het huis toe geloop nadat sy ma nie opgedaag het om hom en sy suster, Delene (7), by die Laerskool Sand du Plessis op te laai nie. Tuis het hy op sy erg beseerde ma afgekom.

Sy kon nie onthou wat gebeur het nie en het gesê dat sy geval het. Dis toe dat hy agterkom dat haar selfoon gesteel is. Hy het onmiddellik terug skool toe gehardloop om hulp te kry om sy pa te bel.

Pieter sê hy is trots op sy kinders. Volgens hom is sy vrou pimpel en pers geslaan. Hy sê dit gee ‘n mens ‘n wrok want waarom word ‘n vrou so geslaan vir haar rekenaar en selfoon.

Die vermoede is dat die barbaar vermoedelik by bure oor die muur geklim het of by die veiligheidshek toegang gekry het en by die agterdeur, wat vir die diere oopgehou word, ingekom het.