Motor van die jaar Porsche Cayman S

Jaarliks word die Motor van die Jaar kompetisie aangebied deur Gilde van Suid-Afrikaanse Motorjoernaliste (SAGMJ). Vanjaar het die kompetisie weer plaasgevind en vir die tweede agtereenvolgende jaar het Porsche die kompetisie gewen.

Vanjaar het die luukse Porsche Cayman S met die gesogte titel weggestap. Dit kan geredeneer word dat die Porsche te duur en eksklusief is maar wanneer gekyk word na die lys van vereistes waaraan ’n motor moet voldoen vir die kompetisie, dan kom ’n mens tot die besef dat die motor inderdaad ’n besonderse motor is.

Een van die vereistes is dat die motor ’n ekonomiese brandstof verbruik moet lewer en die Porsche het daaraan voldoen.

Ironies genoeg was die Porsche nie die duurste motor wat vanjaar deelgeneem  en onder die finaliste geëindig het nie.  Die Jaguar F-Type was ’n raps duurder as die Duitser. Die finaliste was die Porsche Cayman S, Jaguar F-Type, Lexus IS350, Renault Clio, Peugeot 208 GTI, Volkswagen 1,4 TSFI, Audi A3 1,4, Mercedes Benz A45 AMG, en die Volvo V40 D3.

Die tweedaagse toetssessie vind op Gerotek-toetsterrein naby Pretoria plaas en dit word sedert 1986 deur die SAGMJ en Wesbank aangebied. BMW hou steeds die rekord vir die meeste titels, naamlik ses en word dan gevolg deur Volkswagen(3), Opel(3),Audi(3), Toyota(2), Renault(2), Honda(2), Mercedes Benz(1), Ford(1), Mazda(1), Volvo(1), Alfa Romeo(1), Nissan(1), Hyundai(1) en Porsche met twee.

’n Paneel van 25 jurielede het aan die beoordeling deelgeneem. Elke jurielid het 50 stemme en daar mag nie vir minder as sewe voertuie gestem word nie en daar mag nie meer as 10 punte per voertuig gegee word nie. Lesers kan op die webwerf www.sagmj.org.za klik en dan na die hofie “voting grid” gaan vir verdere inligting.