Motor rubriek – Honda Civic Type R

Honda is ’n bekende gesig in die motor wêreld en selfs op die renbaan het hy homself bewys. Ons dink aan F1 motorsport waar Honda dit self al keer op keer bewys het.  By geleentheid het Honda  die enjin en ontwerperspryse gewen.

Die nuutste ontwikkeling wat Honda mee besig is, is die Civic Type R. Alles dui daarop dat dit gedurende 2015 beskikbaar gaan wees. Daar is toetse gedoen en daar is aanduidings dat soos in die verlede, dit ’n sukses gaan wees. Wat belangrik is is dat daar besluit is om gebruik te maak van voorwiel aandrywing teenoor vierwiel aandrywing. Die resultate verkry is beter en alle aanduidings is daar dat die padhouvermoë beter is as die van die A45 AMG.

Volgens die vervaardigers is die einddoel om 254 kW uit die 2 liter enjin te haal, wat nie onmoontlik is nie. Met die hulp van ’n turbo-aanjaer en direkte brandstof inspuiting is enige iets moontlik. Die wringkrag beskikbaar is ’n handige 400 Nm. Hierdie krag word by wyse van ’n ses spoed handrat ratkas oorgedra na die voorwiele en ’n koppelaar word ingespan om die koppeling tussen enjin en ratkas te doen.

Die versnelling van die Honda is bykans gelykstaande aan die van ’n Porsche 911.  Op die toetsbaan in Japan het die wigvormige voertuig bewys dat die padhouvermoë van hoogstaande gehalte is. Dit is wel so dat a.g.v. die “ferm” veerstelsel word alle pad ongelykhede gevoel maar dit is nie onaangenaam nie. Die rem-aksie wat van die geventileerde remskywe verkry word voldoen aan al die vereistes en verrig ’n taak van hoogstaande gehalte.

Reguit lyn versnelling vind plaas sonder enige moeite en dit gee mens hoendervleis want die R is ongelooflik vinnig.

Binne afwerking is van ’n hoë standaard en ’n digitale spoedmeter word gebruik en die rooilyn op die toereteller begin by 7000 o.p.m. Wanneer jy in die voertuig inklim voel dit behoorlik of die sitplekke jou “omvou” en jou liggaam word eintlik deel van die sitplek. Wanneer die rooi “START” aansitter skakelaar gedruk word, is die enjin reaksie onmiddellik en ’n aangename enjin klank kom na vore. Die vier uitlaatpype aan die agterkant van die motor stuur die regte boodskap uit. Die rathefboom is op ’n gerieflik plek en die metaal knop pas gemaklik in jou hand.

Motor entoesiaste kan uitsien na ’n baie interessante voertuig en ’n mens kan nie wag dat dit in 2015 beskikbaar gestel word nie.