Motor rubriek – Ford Mustang

Die eerste Ford Mustang’s het gedurende 1964 die eerste keer op die pad verskyn en sedert daardie tyd het dit ’n bewese rekord verkry as ’n baie gewilde motor. Sommige Mustang liefhebbers was nie altyd tevrede gewees met die motor nie want op ’n stadium is daar ’n ses silinder enjin gepas en dit was nie werklik vir die krag “vrate” aanvaarbaar nie.

Een van die probleme wat in die verlede met die Mustang ondervind was, is die soliede agteras met bladvere wat gebruik is. Hierdie stelsel was ideaal vir ovaalbaan renne maar die padhouvermoë wat benodig word vir algemene pad gebruik was nie na wense nie. In die nuutste weergawe is daar weg beweeg van die ou tegnologie en is daar ’n onafhanklike stelsel in plek.

Goeie nuus vir Mustang liefhebbers is dat die nuwe motors in 2015 in S.A. beskikbaar gestel gaan word in koepee vorm of met ’n afslaankap. Na verneem word sal drie verskillende tipes enjins gepas word. ’n V8, V6 en ’n vier silinder. Dit sal later bekend gemaak word watter enjin in die voertuie wat in S.A. beskikbaar gaan wees, gepas sal word. Die vier silinder enjin is ’n 2.3 liter Ecoboost turbo-aangejaagde enjin wat meer kragtig en ekonomies gaan wees as die intree vlak 3.7 liter V6-enjins van die vorige generasie. Die V8-enjin wat gebruik gaan word se klank gaan “versterk” word sodat die V8-klank duidelik gehoor kan word.

Binne afwerking sal tipies Mustang wees met al die nodige instrumente asook die bekende “Mustang” teken op die stuurwiel.

Op 17 April 2014 is die Ford Mustang 50 jaar oud maar dit sal eers in 2015 in S.A. beskikbaar wees. Aangesien ek self ’n Mustang liefhebber is, sien ek daarna uit dat dit hier beskikbaar gestel word.