Man sterf weens nalatigheid

Nadia Crous (23) van Pretoria is hewig ontstel weens beweerde nalatigheid in die Kalafong-hospitaal waar haar vader, Gerhardus vir ’n bloedoortapping opgeneem is nadat beenmurg kanker by hom gediagnoseer is.

Sy sê haar pa sou nog geleef het as sy hom betyds uit dié spesifieke hospitaal verwyder het en elders heen geneem het vir versorging.

Gerhardus Crous (52) is aan die einde van Januarie in dié hospitaal opgeneem om ’n roetine-bloedoortapping te kry aangesien hy met miëlodisplasie-sindroom (MDS) gediagnoseer is. Die toestand is soortgelyk aan bloedkanker en nuwe bloedselle word nie vervaardig in die liggaam nie.

Hy is 24 uur nadat hy opgeneem is, oorlede in die hospitaal.

Hy het kort voor sy dood geskakel na sy vrou en gevra hulle moet hom kom haal uit die hospitaal “want hier gaan hulle hom doodmaak”.

Die namiddag se besoek aan die hospitaal het almal geskok. Hy was baie swak, bloed het uit se keel gekom, en hy wou nie eet nie.

Toe die hospitaal se leer nagegaan is, het hulle gevind dat sy bloedvlakke nie getoets is nie, en toe dit onder die aandag van ’n suster gebring is, was die verweer dat sy haar eie probleme het en dat hulle nie hul probleme op haar moet aflaai nie.

Sy wou hom wegvat, maar ’n dokter aan diens het haar oorreed om dit nie te doen nie, en gesê dat Gerhardus se toestand gestabiliseer is.

Enkele ure later is hy dood.

Die lykskouingsverslag toon aan dat hy dood is weens inwendige bloeding.

Tot hede het die hospitaal nie gereageer op die voorval nie.