Majuba – Verkenners bly bewaringsbewus

Die Utrecht en Newcastle Verkenners het op Saterdag 8 Feb 2014 die ossewa wat op Majubaberg buite gestaan het in die HS van Blerk saal ingeskuif. Die Paardekraal Verkenners wat dieselfde naweek die ablusieblok se loodgieterswerk kom doen het, moes kom hand bysit om die swaar dele van die ossewa in te dra. Die ossewa moes uitmekaar gehaal word en stuk-stuk ingedra word. Eers is die bak afgetel, toe is die voorste en agterste asse geskei. Die voorste wiel-as kombinasie kon maklik deur die saal se dubbeldeur gaan, maar die agter  wiel-as kombinasie kon nie deurgaan nie. Beide wiele moes eers verwyder word.

Die ossewa is weer binne in die saal aanmekaar gesit.

Dit het groot spanwerk en baie sweet gekos, maar nou staan die pragtige ossewa in die saal waar hy vir baie jare wat kom bewaar sal bly.