Lipstiffieplant / Aeschynanthus radicans

Hierdie plant is een van die ongewone plante wat ons nie maklik sien nie. Die naam, lipstiffie, beskryf die blommetjies pragtig. Aeschynanthus radicans is oorspronklik van Maleisië en verkies ook ’n tropiese klimaat vir goeie groei. Lipstiffieplante behoort aan die familie Gesneriaceae en vereis nie baie aandag nie. 

Dit word ook onder die epifiete plante geklassifiseer en word tot 1,5 meter hoog. Die blaartjies is ovaal- tot langvormige, leeragtig en donkergroen, al langs die stammetjies op. Die blomme is ook langwerpig en hulle word tussen 5 en 7 cm lank en lyk voorwaar soos ’n lipstiffie. Die onderste gedeelte van die blom is langer as die boonste gedeelte. Die blommetjies is gewoonlik rooi met die bruin/pers blomskede.

Dit is ’n rankplant en aard baie goed in hangmandjies. Hulle kan ook direk in die tuin geplant word, teen ’n boomstam en hul sal heerlik in die boom rank. Lipstiffieplante kan ook binnenshuis groei, maar moet genoeg lig kry.  Kweek in helder lig maar nie direkte son nie en gee gereeld water in die somer, maar minder in die winter. Indien hulle te veel water kry, sal die onderste blaartjies van die plant geel word en afval. Humiditeit speel ’n belangrike rol in die groei van hierdie plant. Sny gereeld die takkies korter, dit maak dei plant weelderiger en hy sal ook meer blomme gee. Nuwe plante kan van die steggies gemaak word. Indien die plant treurig begin lyk en nie te goed blom nie, snoei hom sommer goed terug, tot soveel as 20 cm bo die grond en verminder dan die hoeveelheid water en ook die plantvoedsel totdat die plant weer begin groei. Voed net een maal per maand.

Volgens bronne kan dieselfde plantvoedsel wat vir viooltjies gebruik word, vir die Lipstiffieplant gebruik word meng ook fyngedrukte houtskool by die grond. Hierdie plant is redelik vry van siektes, behalwe wolluise wat hom kan aanval.

Dit is ook nou die tyd om Begonias te plant en verskillende groente te saai. Saai ook nou vroegblommende lente blomme.

Geniet u tuin tot volgende keer.