Korkie steeds in aanhouding

Vertroulike inligting wat vrygestel is uit Aden, bevestig dat Pierre Korkie lewend is, maar dat sy gesondheid blykbaar nie baie goed is nie.

Pierre se aanhouding deur terroriste het opspraak verwek regoor die wereld, en sy vrylating word met ’n senuwee tergende proses uitgestel, is die mening van verskeie kenners.

Die ontvoerders eis nog steeds die losprys, terwyl die internasionale wereld nie gretig is om mee te doen in die werwing van fondse nie, aangesien dit die terroriste aanmoedig om meer gyselaars aan te hou.

Die tweede “keerdatum” vir betaling van die losprys het reeds verlede week verstryk, wat bevestig dat die terroriste nog steeds hoop om die losprys te kry.

Die hele gyselaarsdrama het ook ’n uiters spanningsvolle tyd ingelui vir mev. Korkie en haar gesin, iets wat as sielkundige aanslag deur die terroriste uitgebuit word.

Intussen is bekend gemaak dat ’n Britse burger ook gevange geneem is as gyselaar.

’n Anonieme kenner meen dit kan die eerste fase wees om die Pierre Korkie geval “te vervang om die R30 miljoen losprys te kry, deur ’n ander gyselaar in sy plek aan te hou”.