Korkie – onderhandelings gestaak

Pierre Korkie, die gyselaar van Al-Kaïda terroriste in Jemen, se gesondheid het blykbaar drasties agteruit gegaan in die afgelope maande, en kan nie meer hoor nie.

Ingeligte waarnemers sê sy gehoor het sodanig verswak dat daar nie meer mondelingse gesprek met hom gevoer kan word nie, en alle boodskappe word geskryf.

Daar is ook geen vordering om Korkie se vrylating te bewerkstellig nie, en dit blyk asof daar in die afgelope maand geen kontak gemaak is met woordvoerders van Al-Kaïda nie.

Hieruit moet afgelei word dat onderhandelings gestaak is en dat die dooiepunt wat bereik is, nie maklik omgedraai kan word nie.

Dit is nou reeds 20 dae verby die laaste sperdatum wat deur die terroriste gestel is, en nog het hulle geen oorweging gegee aan die dreigement om hom om die lewe te bring nie.

’n Stamhoof het glo gereageer op versoeke om met Al-Kaïda in verbinding te tree oor Korkie, maar die terroriste het geweier om met die stamhoof in gesprek te tree en dring daarop aan dat Al-Hamati aan hulle uitgelewer word.

Die terroriste beweer dat Al-Hamati die R30 miljoen losprys gekaap het.

Pierre word glo nou op ’n ander plek gevange gehou wat deur ’n ander stamhoof beskikbaar gestel is aan die terroriste.

Lede van die bekende stam waaraan Al-Hamati behoort, is na Abyan gestuur in ’n poging om met die stamhoofde te praat en kontak met Al-Kaïda te maak.

Tot hede is daar geen inligting ontvang nie.