Kommer oor taal en wiskundige vaardighede

Daar moet dringend gekyk word om die ernstige tekortkominge in die taal – en wiskundige vaardighede van leerders in 2013 se jaarlikse nasionale assesseringvraestelle (ANA’s) die hoof te bied.

Die Departement van Basiese Onderwys het pas ’n verslag oor verlede jaar se ANA’s die lig laat sien, wat  skokkende voorbeelde insluit oor leerders se totale gebrek aan insig en kennis in vrae.

Hulle sukkel om met begrip te lees, woorde en sinne word onsamehangend gebruik, en hulle het gebrekkige kennis van grammatika en tydvorme. Spelfoute en swak handskrif wat ook algemeen voorkom, is van die probleme wat belig word.

Wat hul wiskundige vermoëns betref, is woordsomme, faktorisering, die omskakeling van maateenhede en berekenings wat breuke en eksponente insluit problematies. Jonger leerlinge kon nie numeriese patrone voltooi of selfs name van getalle en simbole skryf nie.

Die gemiddelde prestasie van gr.1-leerlinge in wiskunde en huistaal was verlede jaar 60%. Gr.3’s het gemiddeld 53% vir

wiskunde gekry en 51% vir taal. Gr.9’s het die slegste gevaar met ’n gemiddelde van 14% vir wiskunde en 43% vir huistaal.

Waarnemers het spottend daarna verwys en gesê dat duidelik is dat kinders dommer word hoe langer hulle op skool is.

Van die voorstelle wat nou gemaak word is onder andere daaglikse wiskunde lesse van sewe uur per week waarin hulle geleer word om getalle en syfers hardop te lees en vorentoe en agtertoe te tel.

Voorstelle vir taalvaardigheid sluit in geleenthede waar die hele klas en klein groepe aan leeslesse kan deelneem; skryfsessies van minstens 20 minute per dag, drie keer per week, handskriflesse en in die hoër grade moet kinders met ‘n verskeidenheid van leesmateriaal toegerus word.