Guptafiasko – saak word dalk teruggetrek

Die twee blanke lugmaglede wat na bewering ’n rol in die Gupta-landing vervul het, en wat nou verhoor moet word, se saak gaan heel moontlik uitgestel word om na die Algemene Verkiesing plaas te vind.

Na afloop van die verkiesing sal die klagtes teen die twee lede heelwaarskynlik terug getrek word.

Dit is die mening van adv. Pikkie Greeff van die SA Nasionale Weermagunie (Sanwu) wat die twee aangeklaagdes verteenwoordig.

Volgens adv. Greeff het hy intussen verneem dat ’n aanbeveling aan die Direkteur van Militêre vervolging gemaak is dat geen gronde vir ’n behoorlike verhoor gevind is nie.

Lt. kols. Christine Anderson en Stefan van Zyl is die enigste twee weermaglede wat aangekla is vir die fiasko wat plaasgevind het met die Gupta-landing.

Die derde aangeklaagde, ene ao. Thabo Ntshisi, het staatsgetuie geword om homself teen moontlike vervolging te vrywaar.

Greeff wys daarop dat hy herhaalde kere geëis het dat ’n verhoor datum vasgemaak moes word, maar dat hy telkens onsuksesvol was.

Met die laaste geleentheid moes hy verneem dat daar nog gewag word vir ’n laaste verklaring vanaf brig.genl. Les Lombard .

Lombard se verklaring is reeds twee weke gelede ingedien en die Weermag het onderneem om ’n verhoor datum te bepaal voor 31 Januarie.

Tot hede, bykans ’n maand later, is die datum nog nie vasgestel nie.

Foto – adv. Pikkie Greeff