Elektrisiëns bring R1miljoen besparing

Die oorspronklikheid van drie munisipale elektrisiëns het hul werkgewer meer as R1miljoen bespaar.

Die drie, Corné Young, Awie Terblanche en Lourens Pienaar, het ’n afsluitingskakelaar wat met afstandbeheer werk, self ontwerp en gebou.

Daar is tans 95 ou medium-volt-uitskakelaars. Om die skakelaars te verander, sou na raming sowat R1,5miljoen gekos het. Die drie het egter die nuwe toestel ontwerp en teen ’n koste van ongeveer R500 gebou. Dit sal hulle in staat stel om die skakelaars van ’n veilige afstand te beheer, sonder die gevaar van beserings.

Marie Ferreira, Mosselbaai se burgemeester het die drie geloof en gesê dat Mosselbaai beskik oor uitstekende amptenare wat trots is op hul werk.

Volgens haar het die drie tot die voordeel van die dorp se belastingbetalers opgetree en ’n bietjie wyer gedink.