Duitsland mag nie terugdeins

Die president van Duitsland, Joachim Gauck, het vandeesweek in ‘n onderhoud met die televisie diens, Deusche Welle, gesê dat die tyd aangebreek het dat Duitsland meer aktief betrokke moet raak in internasionale gebeure. Gauck het gesê dat die land nie langer net ‘n toeskouer kan wees nie en betrokke moet raak al vereis dit ook militêre optrede.

Hy het bygevoeg dat die militêre optrede slegs as ‘n laaste opsie oorweeg moet word en dat die land eerder ‘n bemiddelingsweg sou verkies.

Die Duitse president het ook tydens sy toespraak by ‘n sekuriteitskonferensie in Munich gesê dat Duitsland gereed is om sy internasionale verpligtinge na te kom vir die beveiliging van stabiliteit en demokrasie en nie langer kan terugdeins nie.

Duitsland het sedert die Tweede Wêreldoorlog ‘n lae profiel op militêre gebied gehandhaaf wat ‘n relatiewe lae spandering op wapentuig tot gevolg gehad het. Duitsland se militêre begroting sal waarskynlik aansienlik verhoog as die land sy nuwe verantwoordelikhede wil nakom.