Balju besoek VF Plus.

Die balju in Verwoerdburg het die VF+ se bates in hul kantoor opgeskryf nadat ’n lastereis teen die party geslaag het.

Die optrede van die balju spruit uit ‘n uitspraak in die Meyerton-landdroshof verlede week, waar uitspraak gelewer is dat die VF+ en twee onthullers betrokke was by lasterlike bewerings teen André Odendaal en Odendaal & Summerton, sy regsfirma.

Die landdroshof het ‘n bedrag van R670,678,38 skadevergoeding aan Odendaal en sy firma toegeken.

Die VF+ het intussen ‘n  kennisgewing aan Odendaal en sy firma gestuur waarin hulle aanvoer dat dat hulle teen die hofuitspraak gaan appelleer.

Dit sal die VF+ se tweede appèlaansoek rakende die kwessie wees. Die eerste aansoek is tydens verlede jaar se hofgeding teruggetrek.

Odendaal het gesê die VF+ se appèlkennisgewing is ongeldig.

Die balju het die bates in die VF+ se kantoor op slegs sowat R30500 bereken, wat beteken dat Odendaal dus sal voortgaan met ’n likwidasie-aansoek teen die party.

Die VF+ en twee ander persone het in 2008-’09 aangevoer dat Odendaal onder meer by beweerde ongerymdhede by die Midvaal-munisipaliteit betrokke was.

Die Openbare Beskermer (OB), die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) en die polisie het ook beweerde korrupsie in die munisipaliteit ondersoek na aanleiding van soortgelyke bewerings.

Volgens hofstukke wat Odendaal tydens sy lastereis ingedien het, het die bewerings deur die VF+ onder meer sy gesondheid en reputasie nadelig beïnvloed. Die hof het in sy guns bevind en beveel dat die party en ander betrokkenes skadevergoeding aan Odendaal en sy firma betaal.

Maar Jaco Mulder, Gautengse VF+-leier, het gister gesê hulle gaan voort met die appèlaansoek. Hy sê die vorige saak is weens tegniese aspekte teruggetrek. Hy sê hulle vermoed verdere ongerymdhede en het ook die landdros van Meyerton wat die saak hanteer het, by die Landdrostekommissie aangegee.