Adj.pres. Motlanthe tree uit

Adjunk-president Kgalema Motlanthe gaan ná vanjaar se verkiesing uit die amptelike politiek tree.

Hoewel daar nog nie ‘n amptelike verklaring in die verband uitgereik is nie, het Motlanthe nie sy naam opgegee vir die ANC se kandidatelyste vir die komende verkiesing nie en sal hy ná die verkiesing nie meer in regeringstrukture dien nie.

‘n Anonieme persoon het gesê dat dit die deur oopmaak vir Cyril Ramaphosa, die ANC se adjunkpresident, om as adjunkpresident van Suid-Afrika aangewys te word.

Dit is ook interessant dat pres. Jacob Zuma vir Rama­phosa verlede week as spesiale bemiddelaar vir Suid-Soedan en Sri Lanka aangewys het.

Kenners meen dat die stap met Ramaphosa geneem is om hom aan die internasionale gemeenskap voor te stel.

Clayson Monyela, woordvoerder van die Departement van Buitelandse Sake, het gesê Ramaphosa is die spesiale gesant van die president en dat hy sal help met onderhandelings in die interne politieke stryd in Suid-Soedan, en in Sri Lanka.

Die man wat gehelp het om die ANC se Vryheidsmanifes in 1955 te skryf,  prof. Ben Turok,  gaan ook nie na die parlement terugkeer nie.

Tito Mboweni, gewese arbeidsminister en voormalige president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, lyk asof hy na die politiek wil terugkeer. Hy het ‘n paar dae gelede bedank as voorsitter van AngloGold Ashanti, ‘n stap wat hom dalk in die kabinet as die nuwe minister van Finansies kan bring.

Intussen is verneem dat die ANC voorsiening maak vir die aanwys van ’n tweede adjunk-president, en dat ’n spesifieke vrou reeds geïdentifiseer is vir die amp.

Ingeligte waarnemers meen dit sal net nog ’n simbool wees van ’n te groot staatsmasjien.