Absa praat uit twee monde.

Aan die eenkant sê Absa dat hulle nie meer geld gee vir verkiesings nie, terwyl geld wel aan sekere partye gegee word.

Die VF+ en die UDM kon nie geld by Absa kry nie. Absa sê hulle beleid oor skenkings het verander.

Maar sodra Absa uit die ander mond praat sê hulle dat hulle skenkings maak aan partye wat drie of meer setels in die Nasionale Vergadering het.

Dr. Pieter Mulder, VF+-leier, sê Absa het aan dié party gesê hy gee nie meer geld aan politieke partye nie, hulle gaan slegs geld voorsien waar gemeenskappe opgehef word. Ook Bantu Holomisa, UDM-leier, sê ’n UDM-afvaardiging is verlede week by Absa weggewys met die woorde dat hulle die praktyk om geld vir verkiesings te gee, gestaak het.

Albei partye het vier setels in die Nasionale Vergadering.

Uit die anderkant van hulle mond word bevestig dat hulle reeds skenkings aan die DA en IVP gemaak het.

Narend Singh, IVP-LP, het gesê hoewel Absa die party gehelp het, is hulle ook meegedeel dat Absa ‘n nuwe skenkingsmodel ontwerp het en dat hulle nie in die toekoms partye sal finansier nie.

Deidre Carter, ’n woordvoerder van Cope, het bevestig dat Absa hulle ook weggewys het.

Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, sê die party het geen kommentaar nie.