Zimbabwe hoofstad word cholera-nes

Die hoofstad van Zimbabwe, Harare, is besig om in ’n cholera-nes te ontwikkel met die moontlikheid om die tragiese gebeure van 2008 te herhaal, toe meer as 4000 mense dood is aan dié gevreesde siektetoestand.

Die Vryburger se spesiale verslaggewer in Harare berig dat rou riool oral in die strate gesien word, terwyl die 2 miljoen inwoners nie meer gereeld drink- of badwater kry nie.

Die probleem het etlike jare gelede ontstaan toe die munisipaliteit weens verskillende redes nie instaat was om die rioolstelsel te herstel en opgradering te doen nie. Die wanbestuur en korrupsie het daartoe gelei dat gebreekte pype en toerusting nie herstel word nie, met die gevolge dat die stad nou ’n ernstige epidemie van cholera in die gesig staar.

’n Lywige verslag oor toestande in die stad is ’n nuttelose stuk werk, want niemand doen iets om die haglike toestand te verander nie.

Instansies het etlike jare gelede ’n aantal boorgate gesink om die stad se watervoorraad aan te vul, maar die toerusting is nie in stand gehou nie, en sedertdien is die boorgate ook besoedel met rioolwater.