Word Malema parlementslid?

Die opstoker en oproermaker, Julius Malema, sal sekerlik ’n sitplek in die parlement hè na die 2014 verkiesing, en kan dalk die ANC verras met ’n tiental ander radikale ondersteuners as parlementslede.

Die waarneming is gedoen deur die bekende prof. Amanda Gouws, ’n politieke ontleder, wat ook gesê het dat Malema selfs 18 parlementslede ná die Algemene Verkiesing in die parlement kan hè.

Die voorspelling is ietwat voortydig, en sal met verloop van tyd verander namate daar nader aan die verkiesing beweeg word.

Prof. Bob Mattes, die Direkteur van die Sentrum vir Navorsing in die Sosiale Wetenskappe, meen dat Cope moontlik ’n sterker kans het om te groei.

Kenners is dit egter eens dat Malema se kanse om in die parlement te kom, redelik goed is, maar dat hy van weinig waarde sal wees vir sy ondersteuners.