Word hier alweer gekonkel?

Pres. Jacob Zuma het die spertye vir die kommissies van ondersoek na die Marikana-slagting en die regering se wapentransaksie met onderskeidelik ses maande en ‘n jaar verleng.

Die Seriti-kommissie, wat die wapenskandaal van die laat 1990’s ondersoek, moet sy werksaamhede nou teen 30 November 2014 afhandel.

Die kommissie, onder voorsitterskap van regter Willie Seriti, se termyn van twee jaar sou Maandag verstryk, maar omdat die kommissie eers onlangs met sy sittings begin het, het hy nog tyd nodig.

Sy werksaamhede het in November 2011 begin en sou twee jaar duur.

Die kommissie ondersoek die omstrede wapenaankope van miljarde Rande vir onder meer duikbote, helikopters, vliegtuie en fregatte.

Die Farlam-kommissie, wat die dood van 44 mense by Lonmin se Marikana-myn in Augustus verlede jaar ondersoek, het nou tyd tot 30 April 2014.

Dié kommissie, onder voorsitterskap van regter Ian Farlam, moes binne vier maande klaar wees met sy ondersoek.

Die Farlam-kommissie moet sy finale verslag binne ses weke ná 30 April volgende jaar oorhandig en die Seriti-kommissie syne binne ses maande ná 30 November 2014.

“Ons is baie bly oor die verlenging,” het William Baloyi, woordvoerder van die Seriti-kommissie, gister gesê.

“Dit dui op vertroue in die kommissie. Dit wys ook die kommissie is op koers om sy mandaat te vervul.”

Volgens hom sal die verlenging noodwendig implikasies vir die kommissie se begroting hê.

Die besonderhede daarvan sal later tussen die departement van justisie en die kommissies uitgesorteer word, het hy gesê.

Luidens parlementêre dokumente word die kommissie se koste nou op R101,2 miljoen per jaar gereken – meer as vyf keer meer as die aanvanklike R20 miljoen.

Foto – William Baloyi