Woorde Uit My Hart

Aan wie dit wil lees

As die mistigheid oor die berge kruip, en die klowe en kranse hulle deure sluit. Wens ek dan dat ek hierdie woorde vir julle kan se. Woorde wat kan beskryf, dit wat binne my hart lê. Woordeloos staan ek voor julle in ʼn oomblik waaraan ek vashou, en ek weet dit sal my regop hou in hierdie oomblik wat ek deel met julle.

Ek skryf hierdie brief met trane in my oë en as gevolg van ʼn groot hartseer teenoor al die gevonnisde Boeremag lede se families, vriende en aanhangers. Julle het vir my en talle ander mense die verskriklikste name toegeken (verraaier, gemors, werfetter, slang) en hierdie is maar net ʼn paar van die name wat my toegeken is. Ek het volle begrip daarvoor, want dit is geensins aangenaam om ʼn kind, man, pa of broer af te staan vir ʼn bepaalde tydperk nie, maar reg en geregtigheid het aan die einde van baie dae geseëvier. Ek weet dat ek geen bestaansreg in die regse blanke gemeenskap sal hê nie, en ek aanvaar dit.       

In 2004 het ek ʼn eteafspraak met ʼn Generaal en Kolonel gehad aan die oostekant van Pretoria. Gedurende hierdie ete het ek ʼn belofte aan die twee offisiere gemaak, en ek kan dit onthou asof dit gister was. Die woorde van my belofte was “Generaal ek belowe julle dat ek die waarheid, en tot die beste van my menslike vermoë sal getuig”.

Vandag wil ek net ʼn paar dinge in ʼn groot deel van my lewe behandel. Ek het baie familie en vriende in hierdie proses verloor, maar ek het wysheid, insig, deursettings vermoë en standvastigheid bygekry, en dit is nie verruilbaar vir wat ek verloor het nie. 

Die Staat se Regspan: Mnr. Fick, Dries en Pieter. Ek wil eerstens julle bedank vir die vertroue wat julle in my gehad het om my as die Staat se sleutel getuie te gebruik.

In die nege maande wat ek getuig het was daar goeie dae maar beslis ook baie donker dae, en al wat my regop gehou het was die wyse woorde van mnr. Fick. “Praat net die waarheid al beteken dit dat jy jouself moet inkrimineer”.

Dankie vir al julle ondersteuning en bystand in hierdie tydperk van my lewe wat nie maklik vergeet kan word nie.

Die Ondersoekspan: Kolonel Tollie en jou span in geheel. Ek is nie ʼn ondersoekbeampte nie en my kennis van ondersoekwerk is uiters beperk, maar die bietjie wat ek per geleentheid gesien en ervaar het van jou en jou span se werk wil ek die volgende se.

Dit is bitter jammer dat die SAPD eendag mense soos julle moet verloor, want julle is goud werd en dit was vir my ʼn groot voorreg en eer om mense soos julle te ken.

My Hanteerders: Aan al my hanteerders maar nie Deon Loots nie. Daar was dae van opgewondenheid, maar ook dae van teleurstelling. Daar was dae van vrees, maar ook dae van vreesloosheid.

Dit was vir my ʼn groot voorreg om saam elkeen van julle ʼn groot deel van my lewe te spandeer, en ek is nie vir een oomblik spyt daaroor nie. Ons het met mekaar gelag en ons het ook met mekaar hartverskeurende dinge bespreek en saam gehuil.

Ons het partymaal gegrap, maar ons het ook uiters geheime dinge bespreek en beplan.  Dankie dat julle my bygestaan en beskerm het tot aan die einde. Net een versoek.

Beskerm julle agente en beriggewers soos wat julle my beskerm het, want hulle is julle hartklop soos wat julle die hartklop van reg en geregtigheid is. Sonder hulle, was daar niks, is daar niks en sal daar nooit niks wees nie. Kyk mooi na julle self en onthou – bly nederig, hou jou voete standvastig op die grond en hou jou oë gerig op Christus, dan sal alles goed gaan.

Ek salueer ieder en elk van julle as ʼn individu, want respek is iets wat jy moet verdien, en elkeen van julle het dit verdien.

Deon Loots: Vir jou wil ek net se – Jy is redelik vertroud met die woorde en gesegde “Hond Vreet Hond” en in hierdie aangeleentheid was JY die honger hond, maar gulsigheid het veroorsaak dat JY gevreet is. Ek koester geen haat of wrok nie, maar JY is ʼn totale vreemdeling vir my.    

Ek wil hierdie brief in stilte saam met julle afsluit met die volgende woorde.

Ons Hemelse Vader vergewe my asseblief indien ek enigsins verkeerd gedoen het teenoor enige persoon in hierdie saak. Beskerm asseblief my gesin en familie en elkeen van hierdie geregsdienaars, en laat U Wil Geskiet. Amen.

Ek is beskikbaar vir kommentaar op [email protected] ,

maar as jy ook woordeloos staan sal ek verstaan.

Tot ons volgende ontmoeting….. waar ook al dit mag wees.

Die ………. wat ook al.

J C Smit.