Wit boere is altyd skuldig

Julius Malema, leier van die EFF, wat vlugtig in die hof verskyn het weens beweerde geldwassery, korrupsie en rampokkery, het die aandag van homself afgetrek deur vir sowat 1,000 ondersteuners te waarsku dat die regte wit boere sal terugkom as die swart boere wat nou in die regering is, nie uitgestem word nie.

Malema het gesê die adjunk-president van die ANC, Cyril Ramaphosa, is die swart boer, die buffelsoldaat, en dat hy bloed aan sy hande het oor wat by Marikana gebeur het.

Ramaphosa het verlede week in Seshego gesê die blanke boere sal terugkom as mense nie vir die ANC stem nie.

Malema het in sy uur lange toespraak in die bloedige son, sowat ’n blok van die hof, gesê pres. Jacob Zuma is ’n misdadiger. Hy het ook gesê dat hy nog nooit van die armes gesteel het nie. Hy het uitgeroep dat hulle parlement toe gaan en nie tronk toe nie.

Malema en sy medebeskuldigdes se verhoor was vir twee weke op die hofrol, maar die staatsaanklaer, adv. Billy Molaosi het gesê die staat en die verdediging het ’n ooreenkoms bereik om die saak uit te stel.

Dit volg nadat Malema se regspan, onder wie adv. Laurance Hodes SC, Vrydag ’n voorlegging aan die staat gedoen het waarin hulle redes uiteensit wat hulle aan die hof wil voorhou oor waarom aanklagte teen hom teruggetrek moet word.

Molaosi het gesê die staat sal op 28 November in die hof op die voorlegging reageer.