Weer beurtkrag vir SA?

Die kragreus Eskom het aangekondig dat nyweraars en groot verbruikers minstens 10% minder krag moet gebruik weens die onderhoud wat gedoen word by verskillende kragsentrales in die land.

Die kanse om terug te val in ’n beurtkrag situasie is nou die hoogste sedert 2008, toe beurtkrag die land ekonomies geskud het.

Op ’n stadium het Eskom ’n skrale 400 MW in reserwe gehad, maar die toestand het intussen ’n geringe verbetering getoon.

Eskom vestig sy hoop op die groot verbruikers wat gehoor sal gee aan die oproep om minstens 10% kragbesparing toe te pas vir die volgende paar dae.

Eskom se instandhouding en opgradering van toerusting is begroot om sowat R500 miljard te beloop, wat ook die oprigting van meer kragsentrales insluit.

Tans is byna 30% van Eskom se vermoë afgeskakel om onderhoudswerk te verrig.

Eskom se grootste kliënt, BHP Billiton, sê hulle het begin inkort op kragverbruik, en Anglo American perk ook in.

’n Woordvoerder van Eskom sê die twee instansies, tesame met enkele ander kleiner verbruikers se gesamentlike inkorting beloop sowat 600 MW.