Water-drama op Barkly-Wes

As ’n klein dorpie soos Barkly-Wes nou ontdek dat hulle sowat R25 miljoen benodig om die stokou waterpype te vervang, dan het dié munisipaliteit ernstige probleme.

Die inwoners was ’n hele dag sonder water nadat ’n hoof waterpyp gebars het, en inderhaas met ander los pype gelas moes word.

Herold Robertson sê die munisipaliteit het gepoog om die pyp gou te herstel, maar die netwerk van pype is oud en moet geheel en al vervang word.

Die munisipaliteit maak egter nie werk daarvan om pypleidings geleidelik te vervang nie, maar vervang net die deel waar die probleem ontstaan, is die mening van mnr Russel Edwards, bestuurder van ’n kafee op die dorp.

Edwards sê die kafee beskik oor ’n goeie filtreerder en dit gebeur van tyd tot tyd dat inwoners daar water kom koop as daar nie water in die krane is nie.

Die dorp sy pypleiding is in die vyftiger jare gelê en is sedertdien nie vervang nie.