Vrae oor Obama se spioenasie

Die Europese Unie (EU) se regeringsleiers in Brussels het besluit dat Duitsland en Frankryk met die VSA moet onderhandel oor ‘n verstandhouding om nie op mekaar te spioeneer nie.

Dit is bekend dat die onthullings pres. Barack Obama ernstig in die verleentheid gestel het.

Volgens onbevestigde berigte is hy al in 2010 oor die afluistering van dr. Angela Merkel, Duitse bondskanselier, se selfoon ingelig, maar die Withuis het dit heftig ontken.

Dit laat Europeërs vra: As Obama nie geweet het nie, het hy sy eie intelligensiedienste onder beheer? Verskeie Amerikaanse koerante berig intussen Obama het opdrag gegee dat die afluistering van regeringshoofde met wiedie VSA bevriend is, onmiddellik gestaak word.

Die Demokratiese meerderheid in die Amerikaanse senaat wil ‘n omvattende ondersoek na die saak instel.

Genl Keith Alexander, hoof van die National Security Agency (NSA), het sy organisasie se wêreldwye onderskepping van private elektroniese kommunikasie emosioneel voor die intelligensiekomitee van die Huis van Afgevaardigdes verdedig.

Dit is om te keer dat Amerikaanse soldate in oorsese operasies hoef te sterf, het hy gesê.

Hy het onlangse berigte oor die grootskaalse onderskepping van kommunikasie in Frankryk misleidend genoem. Volgens hom is die onderskeppings deur die Franse geheime diens behartig en met die NSA gedeel.

Mike Rogers, ‘n Republikein en komiteevoorsitter, het ook luidens berigte, gesê die argument dat Merkel geen kontak met terroriste handhaaf en dus nie afgeluister hoef te word nie, gaan nie op nie. Niemand kan immers waarborg dat Merkel se chauffeur of iemand anders haar selfoon nie dalk ongemerk vat en terroriste in Jemen bel nie, het hy gesê.