Volbloed elektriese voertuig nou in SA

Nissan Suid-Afrika het sy heel eerste volbloed elektriese voertuig wat so stil soos ’n muis beweeg, en geen stinkende gasse vrylaat nie, aan sy eerste eienaar gaan aflewer in Midrand.

Die Leaf-gesinsmotor van Nissan is verlede week in Johannesburg bekend gestel en joernaliste kon in ’n konvooi met dié voertuie ry om die eerste “vuurwa”, aan sy baas af te lewer.

Mnr. Greg Ball, ’n sakeman, sê hy het besluit om dié voertuig aan te skaf omdat hy glo in ’n toekoms waar mense onafhanklik van brandstowwe kan bestaan.

Hy en sy vrou Heleen is onafhanklik van Eskom want hulle huishouding is ingerig om met sonkrag te funksioneer. Nou het hy die brandstof magnate ook van sy skouers afgegooi, sê hy laggend.

Hy sê enige iemand kan sy woonhuis, afhangende van die grote, omskakel na Eskom vrye energie, wat tussen R60,000 en R3000,000 kan kos, maar wat baie gou afbetaal word omdat Eskom nie meer deel van jou lewe is nie.

Ross Garvie, van Nissan SA, sê die ontwikkeling het 20 jaar geduur om ’n effektiewe motor te ontwikkel en dit het sowat R55 miljard gekos om te vestig.

Die motor kos R446,000 en kan sowat 200 km ry voor dit herlaai moet word, en dit neem 7 uur om te herlaai.

Nissan beplan om by al sy handelaars herlaai punte in te rig, wat beteken jy kan binne drie uur weer in die pad val met ’n “vinnige herlaai”.