Verbruikerswet bied beskerming

As verbruikers nou keelvol is omdat hulle goed aankoop wat van so ’n swak gehalte is dat dit hulle finansieel benadeel, dan is daar die nuwe Verbruikerswet wat tot ’n redelike mate beskerming bied. 

Die nuwe Wet op Verbruikersbeskerming (kortweg die Verbruikerswet) behels dat alle produkte nou met ’n outomatiese waarborg kom.

Winkels kan nie net ’n gebrekkige produk omruil of dit wil herstel nie. Die volle koopbedrag moet terugbetaal word.

Volgens die nuwe wetgewing moet alle goedere “redelik” geskik wees vir die doel waarvoor hulle vervaardig is, goed werk en geen defekte hê nie.

Die produkte moet ook bruikbaar wees en duursaam wees vir ’n redelike tyd, sê adv. Neville Melville.

Volgens Melville is dit ’n ingrypende verandering.

Die feit dat produkte duursaam moet wees vir ’n redelike tyd is ’n nuwe reg wat nie tot nou toe erken is onder die gemenereg nie.

Dit beteken dat ’n televisie, motor of yskas vir ’n hele paar jaar moet hou, sê hy.

 Wat die verbruiker beslis moet weet is:

a. Sommige produkte kan nié teruggee word nie. (As die verkoper jou daarop wys dat ’n bepaalde produk nie terug geneem kan word nie, en dit motiveer, is jy uitdruklik vooraf daaroor ingelig – soos bv. sekere onderklere)

b. Die winkel se terugbetalingsbeleid en die waarborg van die vervaardiger is voortaan ondergeskik aan die nuwe wet.

c. Die produk moet binne ses maande terugneem word. 

d. Die winkelier is verplig om jou geld terug te gee.  

e. Die produk hoef ook nie meer in die oorspronklike verpakking te wees nie.  

f. Betaalpuntstrokies. Die wet maak nie voorsiening dat ’n betaalpuntstrokie getoon moet wordnie, alhoewel dit weens hoë misdaadvlakke net billik is om die strokie te vertoon, en die feit dat wet se waarborg slegs ses maande geld, maak dit geregverdig dat sulke strokies vereis kan word wanneer ’n item foutief is.