Veediewe ruïneer boere

In die distrikte van Senekal en Steynsrus word boere nou so besteel dat dit ’n krisis word om volhoubaar te boer.

Dit is die mening van ’n landbou kenner en woordvoerder in die Vrystaat.

In die afgelope jaar het mnr. Neels Odendaal reeds 123 skape verloor weens diefstal en mnr. Stefan van Huysteen het 80 skape verloor in dieselfde tyd.

Beide boere se plase grens aan die teerpad, wat dit aansienlik makliker maak vir die diewe om die skape aan te keer en weg te ry.

Die vermoede bestaan dat ’n reuse sindikaat agter die hele rooftog skuil, terwyl ander waarnemers van mening is dat dit nog ’n moedswillige poging is om boere van hul plase te verdryf.

Die prys van skape styg deurlopend, en word tans beraam op sowat R1,500 vir ’n merino ooi.

Die boere se verlies word nog groter as in aanmerking geneem word dat die lammers van gesteelde skape dikwels sommer keelaf gesny word en net daar gelaat word.

Deur 120 skape te verloor, het ’n boer sy hele jaar se wins weggegooi.

“Hulle steel en slag op ’n lang skuinste van die pad, waar hulle motors van ver kan sien aankom. Hulle is uiters professioneel.”