TV-kykers al minder in VSA

Die TV-besigheid in die VSA beleef vanjaar sy slegste jaar nog.

Gehore krimp. Slegs die Olimpiese Spele het ‘n geringe verligting gebied, maar sedert September 2011 was daar ‘n negatiewe groei in uitsaaidienste en betaal-TV-dienste.

Media-aandele analitici, Craig Moffett en Michael Nathanson sê dat die betaal-TV industrie sy ergste jaar nog beleef het. In die derde kwartaal het die voorsieners 113,000 intekenare verloor.

Dit mag nie na ‘n groot getal klink nie, maar gewoonlik het die voorsieners 500,000 nuwe intekenare per kwartaal gekry. Dit maak die prent anders.

Selfs die sport aanbiedings verloor kykers. Duidelik is daar ‘n groot segment van die Amerikaanse bevolking wat net nie meer tevrede is met die dieët wat aan kykers opgedis word nie.

Aan die anderkant verkies mense om eerder films of programme waarvan hulle hou op hulle rekenaars en tablette en slimfone te kyk. Maar duidelik is daar ‘n kykerverandering besig om in Amerika plaas te vind, waarop die industrie nie voorberei was nie.

Dit moet ook onthou word dat die alternatiewe pers in Amerika se aanhang steeds groei. Van hierdie behoudende webwerwe bied ook uitstekende nuus en ander interessante video-programme aan. Duidelik is die groot monopolië nie bestand teen die aanslag van hierdie klein groepe nie wat hulle daarop toespits om die "anderkant" van die massa media bloot te stel.