Trustgeld gebruiker kry tronkstraf

Prokureurs wat finansiële knelpunte beleef, en dan met trustgeld peuter, moet swaar gestraf word om die euwel uit te roei.

Die tendens neem ernstige afmetings aan, en derhalwe moet die straf vir so ’n oortreding uitermatig swaar wees, het ’n landdros gesê

Landdros Dawie Jacobs van Pretoria se handelshof het gesê sulke misdrywe moet met swaar straf ontmoedig word.

Hy het dit gesê in sy uitspraak teen ’n prokureur, Sarie Coetzee wat op waarskuwing vrygelaat is, hangende haar appèl teen die vonnis van 8 jaar effektiewe tronkstraf.

Die landdros was van oordeel dat iemand met Coetzee se kennis, en ervaring in die beroep, haar daarvan moes weerhou om R7 miljoen trustgeld te gebruik.

Coetzee het in 2008 vir ’n ontwikkelaar, oorbruggingskapitaal bemiddel, deur te reël dat ’n sakeman, Jacobs, die geld voorskiet.

Die geld is in ’n trustrekening van Coetzee inbetaal. Die ontwikkelaar, ene Goldblatt moes dit binne 45 dae terugbetaal. Dit het nie gebeur nie.

Jacobs het sy geld geëis en gedreig om Coetzee se goeie naam te beswadder.

Sy het haarself egter “moreel verplig” gevoel om Jacobs te betaal.  Sy het die geld uit haar trustrekening onttrek om Jacobs te betaal vir die skuld wat die ontwikkelaar, Goldblatt moes vereffen.